
Die debat wat woed sedert die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs aan André P Brink toegeken is, het die skrywer só ontstel dat hy sukkel om aan sy nuwe boek te werk.
Uit verskeie oorde is die toekenning van die beurs aan Brink gekritiseer, omdat hy reeds ‘n gevestigde (wit) skrywer is.
Brink sê in ‘n onderhoud aan Heindrich Wyngaard van Die Burger: “Daar bestaan hierdie eienaardige persepsie dat ek rol in die geld.”
Die R 350 000 wat die wenner van die beurs in staat moet stel om sonder bekommernis te skryf, verhinder egter nou Brink se skryfproses, omdat hy soveel kritiek moet hanteer.
“Natuurlik het ek ernstig oorweging geskenk aan of ek enigsins moes aansoek doen – oor presies die kwessie waaroor die briefskrywers so tekere gaan: oor of ek as gevestigde skrywer die beurs moes kry.”
Die advertensie waardeur aansoeke aangevra is, het dit egter baie duidelik gestel dat énige Afrikaanse skrywer kon aansoek doen.
En terwyl Brink bewus is daarvan dat Wallace aanvanklik wou hê dit moes ’n beurs vir bruin skrywers wees, het sy ná vele gesprekke met ander mettertyd tot die besef gekom dat dit ’n rassistiese klank daaraan kan gee. Indien hy egter getwyfel het of Rabie en Wallace dit sou goedkeur dat hy aansoek gedoen het, sou hy dit nie gedoen het nie.
Foto te dank aan Die Burger
Please register or log in to comment