Hou jy daarvan om die vlamme van vurige debat aan te blaas? Kan jy jou mening duidelik oordra, maar ook menings wat met joune bots effektief bestuur? Dan is jy dalk die ideale kandidaat om LitNet se Meningsbestuurder te word.
Dié Meningsbestuurder is webmeester van SêNet, neem beheer van LitNet se blogs en skryf onder die skuilnaam Dopper Joris. Doen nou aansoek!
LitNet is op soek na ‘n dinamiese, hardwerkende Meningsbestuurder wat nie skrik vir warm opinies, knorrige SêNetters, blogstrolle en lang werksure nie.
Benewens die webmeesterskap van SêNet, wat die geduldige taalversorging en laai van twee ladings briewe per weeksdag insluit, moet jy ook beheer neem van LitNet se groeiende blogsplatform en naweke saam met die Uitvoerende Redakteur ‘n oog hou op blogmisbruikklagtes.
Jou flair, jou twee daaglikse SêNet-redakteursbriewe aan die SêNet-gemeenskap en jou bydrae as Dopper Joris op LitNet-blogs sal aan jou ‘n omstrede en nuuswaardige profiel gee. Jy moet die vermoë besit om menings wat met jou eie bots, te bestuur en met begrip plek te gun op LitNet se onderskeie forums. Kortom, jy sal ‘n sentrale plek inneem in die hart van LitNet as meningsgemeenskap en die vermoë en geleentheid hê om debat te stimuleer.
LitNet is deurlopend besig om te groei en te vernuwe en jy moet positief tot hierdie proses bydra. Jy sal ook e-pos-onderhoude voer en van hulp wees met die generering van LitNet-inhoud, byvoorbeeld boekresensies.
‘n Uitstekende taalvermoë, ‘n gewilligheid om besonder hard te werk, HTML- en Photoshop-vermoëns en ‘n voorliefde vir die openbare debat is noodsaaklikhede.
Hierdie is ‘n kontrakpos van een jaar met die waarskynlikheid van hernuwing. ‘n Proeftydperk van drie maande sal van krag wees.
Diensaanvaarding: 14 September of so gou moontlik daarna.
Jy sal werk vanuit LitNet se kantoor in Kerkstraat, Stellenbosch.
Stuur jou aansoek voor of op 21 Augustus aan naomibruwer@litnet.co.za.
Please register or log in to comment