Alert! The University of Johannesburg has announced that Etienne van Heerden and Loftus Marais have won the 2009 UJ Prizes for Creative Writing in Afrikaans. Van Heerden wins the main prize of R60 000 for his novel, 30 nagte in Amsterdam and Marais the R20 000 debut prize for his collection of poetry, Staan in die algemeen nader aan vensters.
The two authors, both published by Tafelberg, an imprint of the NB group, have been on a roll: Marais earlier shared the Eugène Marais Prize with Ronelda S Kamfer, while van Heerden won last year’s M-Net Literary Award (for Asbesmiddag) and has been re-shortlisted for the M-Net prize again this year for Amsterdam.
Here is the official UJ press release – and see below for more on the winning books, plus video clips with the authors Hearty congratulations to van Heerden and Marais!
Etienne van Heerden en Loftus Marais wen die UJ-Pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans
Die UJ-prys vir die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans wat gedurende 2008 gepubliseer is, gaan aan Etienne van Heerden se Dertig nagte in Amsterdam. Dit is die negende jaar wat hierdie toekenning gemaak word. Vorige pryswenners was onder meer: Breyten Breytenbach (2007), Ingrid Winterbach (2006), André P. Brink (2005), Marlene van Niekerk (2004). Antjie Krog was die eerste ontvanger van die prys in 2000.
30 Nagte in Amsterdam is deur die keurpaneel uit ‘n kortlys van vyf werke as die wenner van die R60 000 prysgeld aangewys. Die ander werke op die kortlys was:
Steyn, Jaap. Sonkyker. Kaapstad: Tafelberg.
Kannemeyer, J.C. Leroux: ‘n lewe. Pretoria: Protea.
Du Plessis, P.G. Fees van die ongenooides. Kaapstad: Tafelberg.
Myburg, Johan. Kamermusiek. Pretoria: Lapa.Die uiteenlopende aard van die werke op die kortlys (‘n biografie, ‘n outobiografie, twee romans en ‘n digbundel) gee ‘n aanduiding van die gedugte taak wat die keurpaneel moes onderneem.
30 Nagte in Amsterdam getuig van Van Heerden se onbetwisbare vakmanskap. Die taal word op ‘n indrukwekkende wyse ingespan om ‘n spannende verhaal te vertel. Die leser word maklik verlei om agter die spannende verhaal aan te lees, maar uiteindelik bied die roman ‘n bestekopname van die bestaan van wit Suid-Afrikaners. Die rol van kuns, van die kreatiewe in die verkenning van die verlede en die ondersoek van bestaansmoontlikhede vir die toekoms staan ook sentraal.
Die UJ-debuutprys van R20 000 gaan aan Loftus Marais se digbundel Staan in die algemeen nader aan vensters. Marais se gedigte het dikwels ‘n ligte, speelse toon en getuig van ‘n belesenheid en taalvaardigheid wat groot belofte inhou. Dit val op dat die debuutprys reeds drie keer aan digbundels gegaan het teenoor die vier keer wat dit aan prosawerke toegeken is.
Die pryse word in Oktober by die UJ aan die wenners oorhandig.
*
Universiteit van Johannesburg-Pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans
Die Universiteit van Johannesburg (voorheen RAU) het in 2000 twee pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans ingestel.
Die UJ-prys vir die beste skeppende werk in Afrikaans; en
Die UJ-prys vir die beste skeppende debuutwerk in Afrikaans.
Die waarde van die pryse is die volgende:
Die UJ-prys: R60 000 per jaar;
Die UJ-debuutprys: R20 000 per jaar.
Die vereistes vir die pryse is die volgende:
Die UJ-prys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende werk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.
Die UJ-debuutprys word toegeken aan die skrywer van die beste oorspronklike, skeppende debuutwerk in Afrikaans wat gedurende die vorige kalenderjaar gepubliseer is.
Die pryse is tydens ‘n galageleentheid in November 2001 vir die eerste keer toegeken. Eersgenoemde prys is toe aan Antjie Krog toegeken vir haar bundel, Kleur kom nooit alleen nie.
Agtergrond
Die idee vir ‘n prys vir skeppende skryfwerk het in 2001 ontstaan nadat die Departement Afrikaans by die destydse RAU ‘n skenking van R10 000 ontvang het om skeppende skryfwerk in Afrikaans te bevorder. Ons het besluit om ‘n litrêre prys in te stel. Die Universiteitsbestuur het die idee ondersteun en ‘n verdere bedrag van R 40 000 beskikbaargestel vir pryse. Daar is toe besluit om die twee pryse toe te ken soos hierbo verduidelik. Sedert 2007 is die prysgeld verhoog na die huidige bedrae.
Die Keurpaneel
Vir die beoordeling van die beste werk van 2008 is die paneel soos volg saamgestel:
Willie Burger (UJ) – sameroeper
Marthinus Beukes (UJ)
Jac Conradie (UJ)
Irma du Plessis (WISER)
Thys Human (UJ)
Gerrit Olivier (WITS)
Corina van der Spoel (Boekehuis)
Andries Visagie (UNISA)
Genre
Die pryse word nie aan ‘n spesifieke genre gekoppel nie. Dit maak die beoordeling moeiliker in die sin dat ‘n digbundel byvoorbeeld teenoor ‘n roman of ‘n biografie opgeweeg word, maar dit skakel tog baie ander probleme uit.
Oor die boeke
30 nagte in Amsterdam
Henk Andreas de Melker, eerste museumassistent in ‘n klein dorpie in die Oos-Kaap, kry onverwags ‘n brief van ‘n juris in Nederland. Die brief lig Henk in dat hy sy lankverdwene Tante Zan se huis in Amsterdam geërf het.
In sy kinderjare was Tante Zan, ‘n pragtige maar eksentrieke vrou, die een met die kwaal, die onhebbelike gewoontes en die onverwagse toevalle. Maar ook die een met die geheimsinnige glaskamer en die avonture waarvan niemand geweet het nie.
Henk is ‘n voetjie-vir-voetjie-navorser, die skrywer van dun boekies waarin hy die lewens van onmerkwaardige mense opteken – soos die beoogde boek oor Cornelius van Gogh, die onbekende broer van Vincent en Theo, wat in Suid-Afrika begrawe lê.
En nou erf Henk Tante Zan se huis. Tante Zan met die geheime lewe, waarvan Henk in Amsterdam gaan uitvind. Ook Tante Zan, die aktrise met die onverwoesbare erotiese drif en die politieke aktivis met die voorliefde vir vreemde vriende, soos die rolprentmaker Cecil Dimaggio en die Luandese straatmusikant van die Leidse plein.
Henk kan sy erfporsie slegs opeis deur te reis na Amsterdam, waar hy ingesuig word in die maalstroom van die Amsterdamse binnestad met sy sakkerollers, prostitute en straatmusikante.
Sy ervaringe in Nederland konfronteer hom met sy kinderjare saam met Tante Zan in die huis van sy ouma. Vir Henk wag groot verrassings oor sy tante se merkwaardige lewe op twee kontinente – en die invloed wat dit op sy eie lewe gehad het.
Ten slotte moet Henk kies of hy in Amsterdam gaan woon, en of hy na Suid-Afrika gaan terugkeer. Maar eers moet hy alles oopvlek wat van hom weggesteek is, en sy eie lewe opnuut leer ken. Sy dertig nagte in Amsterdam verander die besadigde Henk de Melker se lewe vir altyd.
Video: Onderhoud me Etienne van Heerden oor 30 nagte in Amsterdam
[youtube]http://www.youtube.com/watch?v=Ciqg3_NVKHs[/youtube]
Staan in die algemeen nader aan vensters
In hierdie debuutbundel word die vier aparte leefruimtes van ’n sprekerstem poëties ontgin. Die studentedorp, die voorstad, die stad en ook die platteland word op soms speelse, soms intieme wyses ondersoek, en die verweefdheid van ruimte en identiteit word stadig aan die leser uitgelê. In al hierdie ruimtes is die grootste bindende faktor die alomteenwoordigheid van kuns, en dan spesifiek die blik van die digter. Maar dit is nie ’n eenheidsbundel in die tradisionele sin van die woord nie. Hier word juis teen die poëtiese tradisie gerebelleer, terwyl daar tegelykertyd ’n waardering van klassieke invloede is.
Staan in die algemeen nader aan vensters is ’n bundel vol komplekse energie. Marais speel met stemme by tye liriese én wrang, somber én snaaks, nostalgies én hiperkontemporêr: van ’n herbeskrywing van die poëties-geykte Karoo-landskap tot die skyn-tragiese mymerings van ’n tuindwerg. Hierdie is jong, oorspronklike verse wat die alledaagse op sterk beeldende maniere met betekenis en betowering laai.
“’n Versameling gedigte waarin Marais met sukses sy aansienlike digterlike talente ten toon stel..” – Andries Visagie
“Hierdie bundel getuig van inhoudelike diepgang, ’n tematiese verskeidenheid, ’n behoedsame strukturering en ’n tegniese bedrewenheid. Taalpuriste en ander moraliste sal stik, en terwyl hulle stik en beswyk sal hulle die digter se woordvaardigheid en stylvariasie miskyk: informeel, formeel, eerbiedig, ironies, verleidelik, bevraagtekenend, skokkend, intiem, woedend, sober, evokatief – noem maar op. Dit getuig van skeppingskrag en vakmanskap.” – Ronel Foster
“Die grootste enkele deug van hierdie verse is dat hulle ’n vars en oorspronklike kyk op ’n uitgebreide reeks sake met ’n besonder gevoelige seggingskrag en goed ontwikkelde beeldende vermoë kombineer. Die publikasie van hierdie werk sal ’n duidelike sein uitstuur dat Afrikaans ook in sy intieme fluisteringe en sy vermoë tot talige verrukking ’n soort hoop vir die toekoms inhou, en wel in ’n land waar die brutalisering van die gevoelslewe aan die orde van die dag is.” – Marlene van Niekerk
Video: Onderhoud met Loftus Marais
[youtube]http://www.youtube.com/watch?v=YcTtx5eTPwo[/youtube]
Boekbesonderhede
Please register or log in to comment
» View comments as a forum thread and add tags in BOOK Chat
May 20th, 2009 @19:04 #
Well done -- I am particularly pleased for Loftus, and for what this says about the acknowledgement poetry is getting as a genre.
May 20th, 2009 @20:01 #
Congratulations to both! I wish I could read fiction and poetry in Afrikaans, but as for now there is enough for newspapers only.