Go to BOOK SA home
21 Mar 2010

BOOK SA – News

@ BOOK Southern Africa

KKNK: Hoogtepunte vir boekliefhebbers

April 2nd, 2009 by Liesl

Marlene van NiekerkAndré Brink by die geblikte verseStef Bos - AB 2009 - Vaste cameraRiana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh

Aprilmaand is dit weer feestyd met die beroemde KKNK! Die program is propvol en divers en besoekers moet beslis nie dit misloop nie!

LESINGS EN GESPREKKE
Plek: Die Burger Praatsaam Sitkamer
Prys: R10 (betaal by ingang)
Elke dag van 09:00 – 10:30

Verlede jaar was, plaaslik en internasionaal, ‘n troebel jaar. Ons is deeglik uitgeskud en van oormoed genees. Daarom is vanjaar se gesprekke padlangs, skerp en soms stroomop. Die klem val op die verrassende invalshoeke en uiteenlopende perspektiewe, eerder as vinnige, maklike antwoorde. ‘n Saak het immers selde net twee kante. Meerstemmigheid is daarom aan die orde van die dag en die gehoor se vrae en opmerkings vorm ‘n belangrike komponent van hierdie burgerlike gesprek. Hierdie reeks is ‘n KKNK-instelling.

Van Maandag tot Donderdag, klokslag om 9:00 in Die Burger Praatsaam Sitkamer, sentraal geleë in die hartjie van die feesterrein, is Die Burger Praatsaam-reeks die eerste afspraak op die dagprogram. Kom sluit elke oggend by ons aan. Koffie is geredeliker wys beskikbaar en stimulerende geselskap gewaarborg.

Irma du Plessis (voorsitter), Christo van der Rheede, Debra Meyer en Jacob van Garderen

Trade Unions and Democracy, COSATU workers political attitudes in South AfricaDie Keiser is KaalSuid-Afrika ná die verkiesing – 6 April 09:00

Met Sakhela Buhlungu, Judith February, Dirk Hermann en Desmond Thompson

In die harwar van verkiesingskoors rus alle oë noodwendig op die eindstreep. As gevolg van die krisis in die ANC, verskuiwings in opposisiepolitiek en die korrupsiesaak teen Jacob Zuma bestaan daar tereg ook kommer oor hoe die verkiesing gaan afloop. Maar wat gebeur nadat die oorwinnaars feesgevier het, die plakkate afgehaal is, en die wonde gelek is? Hoe stel ons ons Suid-Afrika, ná die verkiesing, voor? Wat beteken dit om in ‘n postkolonie te woon, vier verkiesings later en waarskynlik met ‘n vierde president in die Uniegebou? Hoe maak ons sin van die Suid-Afrikaanse situasie noudat ons weet dat ons nie die ervarings van ander postkolonies gaan vryspring nie – ons vermeende uitsonderlikheid ten spyt? Wat is die invloed van internasionale gebeure, soos die kredietkrisis en Obamania, op Suid-Afrikaners se verwagtings van ‘n nuwe regering? Watter moontlikhede en uitdagings wag op burgerlike instansies soos vakbonde, godsdienstige groeperinge en die media? Bowenal, watter soort burgers sal ons moet word om die moue op te rol, en dapper en verbeeldingryk die bul by die horings te pak?

Selfhelp en die spoke van die verlede: Gedagtes rondom die Bruin Belange Inisiatief – 7 April 09:00

Met Mandy Rossouw, Danny Titus en Christo van der Rheede

‘n Gemeenskap help homself was al die slagspreuk, op dié kontinent en elders, van sosiale bewegings so uiteenlopend soos nasionalisme, fascisme, swart bewussyn, Pinkster Christendom, apartheid en anargisme. Dis sommige van hierdie spoke, maar ook ideale, wat in die nek blaas van ‘n onderneming soos die onlangs gestigte Bruin Belange Inisiatief. Nou, amper ‘n jaar nadat dit van stapel gestuur is, vra ons sonder omhaal: Wat is die idees wat inslag gee aan die BBI? Hoe het dit in praktyk beslag gekry? Wat is die terugvoer? Eweneens: Wat verklap die standpunte van sowel die BBI se kritici as ondersteuners van die manier waarop hierdie kwessie vir alle Suid-Afrikaners tot op die been sny? Is daar moontlik ‘n gaping tussen die idee van ‘n bruin sosiale krisis aan die een kant en die vereistes van ‘n politiek van nie-rassigheid aan die ander? Een wat dus vir meer verwikkelde oplossings vra? Maar is dit enigsins moontlik, in die soeke na oplossings, om nie jou hande vuil te maak nie?

Hofdramas: Regters, die regering en openbare vertroue in die regstelsel – 8 April 09:00

Met Norman Arendse, Pierre de Vos en Johann Kriegler

Een instelling wat die afgelope paar jaar vir meer politieke drama as die parlement gesorg het is die Suid-Afrikaanse regbank. Sedert 1994 het regters ‘n hele aantal uitsprake gelewer wat fundamentele regte beskerm en verdiep – selfs al het dit beteken om soms teen die regering beslis. Die wapenskandaal en die Zuma-vervolging het nou egter ‘n ruimte geskep vir aantygings en vrese dat die regering in die onafhanklikheid van die regbank inmeng en dat regters sal swig voor die druk wat op hulle geplaas word. Terselfdertyd is daar ‘n aantal vakatures wat gevul moet word en ‘n noodsaak om die bank meer verteenwoordigend te maak. Dit lyk dus soos ‘n waterskeiding vir die onafhanklikheid van die regbank. Maar hoe onderskei ‘n mens tussen simptome en oorsake? Waarin is openbare vertroue in die regbank immers gesetel? En wat van bestaande prosedures waardeur regters aanspreeklik gehou word? Bowenal, hoe kan ons sinvol gesels oor kwessies soos die bekwaamheid van regters, met inbegrip van die feit dat die regbank, soos ander Suid-Afrikaanse instellings, nie vry is van die bagasie van die verlede nie?

The Dynamics of TreasonAfstand en verbintenis, Elizabeth Eybers in AmsterdamAgaatAan die ander kantBoeremusiek, bediendes, gebakte pampoen en oorskietgoed: ‘n Herbesoek aan Afrikaanse herinneringsplekke – 9 April 09:00

Met Albert Grundlingh, Ena Jansen, Stephanus Muller, Marlene van Niekerk en Hein Willemse

Vir ongeveer ‘n honderd jaar; vir só lank bly die verlede nog warm sê Albert Grundlingh en Siegfried Huigen, redakteurs van Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Maar herinnerings loop nie alleen nie, want die mens is ‘n kuddedier. Herinnerings word onderling uitgeruil en vir jonger generasies aangegee. Gedeelde, kollektiewe herinnerings vorm die basis waarop ons ander herken as ons mense, ‘n ruimte as ons plek, ‘n deuntjie as ons sentiment. Monumente is een vorm van gedeelde onthou. Maar die verlede lê bowenal opgesluit in alledaagse maniere van doen en dink en planmaak. Mettertyd verander sulke gebruike. Wit Afrikaanse herinneringsplekke is gesif deur gebeure soos die Anglo-Boereoorlog, die ontvolking van die platteland, die koms van televisie, veranderings in politieke bestel, nuwe idees, ekonomiese voorspoed en die opkoms van ‘n verbruikerskultuur. Sommige dinge wat verbygaan word ‘n kollektiewe herinneringsplek. Ons voorste kultuurkritici het ‘n paar sulke Afrikaanse herinneringsplekke gaan herbesoek. Sommige gebruike en maniere het met verloop van tyd verdwyn of verword; ander loop klopdisselboom; nuwes ontstaan. Hoe proe hierdie soet-suur sousie van nabetragting?

# # #

BOEKBEKENDSTELLINGS

In LimboIn Limbo – Jackie en Reinet Nagtegaal
Datum: 6de Apr. 18:00 tot 19:00
Plek: Die Neelsie Teater
Taal: Afrikaans

Die bekroonde skryfsters Jackie en Reinet Nagtegaal het saam gespan om ‘n insiggewende verhaal te skep wat die delikate verhouding tussen ‘n ma en haar dogter skets. Die twee lewe in limbo in hulle rykmanswêreld teen die hange van Tafelberg in ‘n huis wat hulle besig is om te vergroen. Die situasies waarin die twee beland is tegelyk skreeusnaaks en hartverskeurend. Kom gesels saam en geniet ‘n glasie wyn.

KinderverseboekNuwe Kinderverseboek - Bekendstelling 7 AprilDis met groot opgewondenheid dat Tafelberg die Nuwe kinderverseboek bekendgestel. “Ons vier die gebeurtenis by die KKNK en dit sal wonderlik wees as jy die geleentheid kan bywoon.”

Datum: 7de Apr. 18:30
Plek: Sarie Binneplein, CP Nel Museum
Taal: Afrikaans

Nuwe Kinderverseboek, saamgestel deur Riana Scheepers en Suzette Kotze-Myburgh, is die nuutste, lekkerste, opwindendste versameling kinderverse in Afrikaans!

StilleweStillewe - Stef Bos
Datum: 7de Apr. 12:00 tot 13:00
Plek: Die Neelsie Teater
Taal: Afrikaans en Engels

Die boek Stillewe (Stilleven) wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse beeldende kunstenaar Varenka Paschke moontlik gemaak is, word hier bekend gestel. Meer as in ander boeke het Varenka se beelde Stef se taal beïnvloed. Baie van die beelde het in die boek ontstaan en die woorde word terselfdertyd daardeur aan die lig gestel. Dit maak Stillewe ’n uitsonderlike werk van twee mense uit twee wêrelde wat êrens in die middel byeenkom.

‘n Vurk in die pad‘n Vurk in die padAndré P Brink
Datum: Woensdag, 08 April 2009
Tyd: 17:30 PM
Plek: Neelsie Teater, Jan van Riebeeck & Kerkstraat
Human & Rousseau nooi jou uit na ‘n KKNK boekgeleentheid: André P Brink in gesprek met bekende radiopersoonlikheid Johan Rademan oor ‘n Vurk in die pad.

Hierdie langverwagte memoir gee die leser ‘n blik op die ryk en vol lewe van een van die grootste skrywers in Afrikaans.

Let wel:
Die inligting in die feesprogram is onderhewig aan daaglikse veranderinge, sonder kennisgewing, ten opsigte van byeenkomplek, tye, akteurs en dies meer. Dit bly uitsluitlik die feesganger se verantwoordelikheid om op hoogte te bly van enige veranderinge. Die Absa KKNK aanvaar geen verantwoordelikheid ten opsigte van verliese of skade wat gelei word na aanleiding van enige inligting, dienste of produkte wat in hierdie webblad voorgehou word nie.

Boekbesonderhede

Dankie aan Victor Dlamini vir die foto van Marlene van Niekerk en daMusic.be vir die foto van Stef Bos

Please register or log in to comment